fbpx
Ons is opgewonde om te sien hoe God elke gelowige opbou tot dienswerk sodat die gemeenskap Christus kan beleef.
  • Wedergeboorte

    Wedergeboorte

    Op my nuwe lewensreis met God... Word ek nuut gebore

Is bekereing en wedergeboote dan nie dieselfde nie?
Bekering is ‘n wilsbesluit wat jou na God toe neem. Wedergeboorte is God se antwoord op jou besluit, en deur God se Gees—die Heilige Gees—vind daar nog ‘n geboorte plaas. Hierdie keer is dit in jou gees.
Jy moet altyd onthou wat die samestelling van die mens is: Ons is gees - ons woon in ‘n liggaam - ons het ‘n siel, bestaande uit ‘n wil, denke en emosies.
“En mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus.” 1 Thes. 5:23.
Kom ons kyk na Jesus se gesprek met Nicodémus
Joh. 3:3 - 5: “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens, as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”
Wedergeboorte is daardie Goddelike daad waarvolgens mens die Goddelike natuur deelagtig word.
Eseg. 36:26 - 27: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal My Gee in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en My verordenigne onderhou en doen.”
Paulus stel dit mooi in Ef. 2:1 - 5 “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur Sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered.”
Wedergeboorte is ‘n ingryping van God in ‘n mens se lewe. ‘n Geboorte nie uit die bloed of uit die wil van ‘n mens nie, maar uit God gebore. Joh. 1:13: “wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”
Vlees versus gees
Wedergeboorte bring jou in lyn met God.
Joh. 4:23: “...daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid…” Jy sien, God is Gees en jy kan Hom alleenlik in jou gees aanbid.
Bekering en wedergeboorte loop dus hand aan hand— my hand in God se hand. Wedergeboorte is ‘n Goddelik proses in die mens se gees, op die mens se besluit in sy sielsvlak om deel te wees van die Goddelike natuur.
Ef. 2:17 - 19: “En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was, want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.”
Twee nature in die mens
Omdat daar naas die ou vleeslike natuur ook ‘n Goddelike natuur in die mens geplaas is, het hy nou twee nature; die een is in sy vlees en die ander in sy gemoed.
Rom. 7:18 - 25: “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlusig my in die wet van God na die innerlike mens, maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God, deur Jesus Christus, onse Here!”
Daarom sal ‘n kind van die Here ook soos Paulus by tye bewus wees van “’n wet in sy lede wat stryd voer teen die wet van sy gemoed”. Die geheiligde en oorwinnende lewe bestaan daarin dat ons die ou vleeslike natuur moet kruisig en as dood beskou.
Oorwinning oor sonde en vlees
Selfs diegene wat nie wedergebore is nie, sal op grond van die sedelike eise wat gestel word, probeer om sonde en vleeslike neigings te oorwin. Daardie oorwinning is maar uiterlik. Wanneer ‘n mens egter deur wedergeboorte die Goddelike natuur deelagtig geword het en aan die Heilige Gees oorgegee is, is die oorwinning oor sonde, vlees en die begeerlikhede van die wêreld iets natuurliks.
Gal. 5:16 - 18: “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikeheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeerteen die Gees, en die Gees teen die vlees; enhulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.”
Vry van die oordeel van die wet
Die wet eis dat sonde gestraf sal word, ja, selfs met die dood. Die wedergebore siel is reeds in die gekuisigde Jesus ‘n gestorwene en “hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.” Rom. 6:7.
Vereenselwiging met die dood, begrafnis en opstanding van Christus
Die mens in sy natuurlike staat is dood in sy misdade en sonde (Ef. 2:1) en het in homself geen krag om uit daardie toestand van doodsheid op te staan nie. Jesus moet hom uit die dood van sonde opwek.
As ons in geloof met die dood en opstanding van Jesus vereenselwig, vind daar met die wedergeboorte ‘n opstanding tot ‘n nuwe lewe plaas.
“Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” 1 Joh. 3:14.
Die wedergeborene kan saam met Paulus getuig, volgens Rom 6:3 - 4: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Die afgaan in die water in spreek van ‘n sterwe saam met Christus. Die opkom vanuit die water spreek van ‘n opstanding saam met Christus. Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.
‘n Tempel van God
Die wedergeborene is ‘n tempel van God (1 Kor. 3:16).
“Of weet julle nie dat jule liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat jul nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor. 6:19 - 20.
Dit bring ook die innige verhouding waarin die mens tot sy God kom, soos beskryf in Joh. 15:14: “Julle is My vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”
Op die weg van waarheid en lewe
Hier word ons as erfgename bewus gemaak van:
A) Die ewige lewe - 1 Joh. 3:14; Ef. 2:5
B) Erfgenaam van die koninkryk van God — Joh. 3:3—5
C) Goddelike kindskap – Joh. 1:12 - 14
D) ‘n Goddelike natuur—Met die wedergeboorte ontvang die mens, naas sy ou vleeslike natuur, die Goddelike natuur van Jesus. Hierdie Christus- natuur in hom word geopenbaar in ‘n nuwe lewe, nuwe belangstellings, begeertes, drange, ens. (2 Kor. 5:17; Ef. 2:1; 2 Pet. 1:4). Hierdie nuwe natuur sondig nie (1 Joh. 3:9 & 5:18), maar doen die geregtigheid (1 Joh. 2:29) en betoon liefde teenoor God en sy medemens (1 Joh. 4:7).

Kontak Ons

T: 021 981 0200
E: Hierdie e-posadres word teen spambots beskerm. Jy benodig JavaScript geaktiveer om dit te bekyk.

Rots Kantoor:
Maandag - Vrydag 08:00 - 13:00


Bank Besonderhede

Rotsgemeente
ABSA Brackenfell
Rek. nr. 01000 541 261
Takkode 632005

Kopiereg © 2017 | www.rocksolid.org.za. Alle regte voorbehou.
Tel: (021) 981 0200 | Faks:(021) 982 2502 | Fisiese Adres: Leliestraat 25, Proteahoogte, Brackenfell | Posbus 25, Brackenfell 7651
Webwerf bestuur deur IT Giant Web.