Noudat ek ‘n kind van God is moet ek bid
Gebed is iets wonderliks. Sommige mense worstel skynbaar in die gebed...ander is kalm. Sommige nader tot die Here volgens ‘n vaste patroon; ander is weer uiters informeel omtrent die wyse waarop hulle die Godheid aanspreek. Sommige praat van “deurbid”, terwyl ander eenvoudig sê hulle gee alles oor in die hande van die Here.
Hardop of sag, kort of lank, worsteling of kalmte; gebed is ‘n krag in die lewe van die kind van God!
Gebed is die geleentheid om met God te kommunikeer, om my probleme en oorwinnings met Hom te deel en om my stem in aanbidding op te hef tot my Verlosser.
Wat is gebed?
Gebed is beslis nie ‘n beleefde toespraak ten aanhore van God nie.
Gebed is ‘n uitroep, ‘n kreet, ‘n gesprek met God, en Hy eer die geroep van die bekeerde hart. “Hierdie ellendige het geroep en die Here het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.” (Ps. 34:7)
Hierdie aspek kan seker nooit oorbeklemtoon word nie. As kind van God besit jy ‘n tere, warme hart jeens Hom. As gevolg daarvan kan jy tot die Here spreek uit die diepte van jou hart, tot Hom roep met jou hele wese en welsprekender pleit as die beste menslike woorde.
Gebed is die anker van jou lewe. Sonder gebed sal jou geestelike lewe gou weer afkoel en sal jy spoedig die kosbaarhede verloor wat jou sopas ontvang het tydens jou bekering.
Hoe om te bid…
Daar is verskeie maniere van bid:
Petisie (versoeke) : Dit is wanneer jy God versoek om in sekere behoeftes te voorsien.Dit is jou voorreg as kind van God om na jou hemelse Vader te kan gaan en te vra om onderneming in spesifieke omstandighede; om Sy hulp te vra in elke aspek van jou lewe. “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mark. 11:24)
Waak egter daarteen dat hierdie nie die enigste soort gebed is wat jy bid nie.
Dit sal vir jou van groot waarde wees om ‘n gebedslys saam te stel. Dit is ‘n lys van dinge wat jy van God verlang. Jy kan dan gelowig en ernstig bid oor hierdie dinge, een vir een. Dit sal vir jou ‘n wonderlike seën inhou om sulke gebedslyste te bewaar en daarop af te merk hoeveel van die versoeke beantwoord is. Dit sal jou geloof versterk en ‘n opgewondenheid by jou laat posvat oor die grootheid en goedheid van God.
Danksegging: Dit is belangrik om nie te vergeet om dankie te sê vir alles wat God reeds vir jou gedoen het nie. Dit is ‘n baie goeie manier om jou gebede mee te begin. Dit versterk beslis jou geloof as jy dinge onthou wat God vir jou gedoen het.
Lof en prys: Hierdie is een van die mees verwaarloosde soorte van gebed in baie van die kinders van die Here se lewens. Daar is ontsettend veel geestelike krag te put wanneer ons begin om die Here te loof en te prys.
Lof en prys stem tot ‘n mate ooreen met danksegging, maar handel meer spesifiek oor dit wat God is, as dit wat Hy gedoen het.
‘n Baie belangrike punt om te onthou is dat ons die Here moet loof en prys ten spyte van omstandighede.
Jy moet dus nie deur jou gevoel alleen gelei word om die Here te prys nie. Heel moontlik sal dit in tye wees wat jy die minste daarna voel om die Here te loof, waarin jy die wonderlikste oorwinnings behaal.
Aanbidding: Dit is weer nou verwant aan prys, maar aanbidding het meer te doen met u gesindheid en verhouding tot God. Aanbidding is die gee van die hoogste eer aan God.
Deur aanbidding verhef jy die Here en daardeur ontsluit Hy vir jou die dieptes en aanskou jy die verborge dinge van God.
Die Bybel wys ons daarop dat die kinders van die Here hulle moet beywer ten opsigte van geestelike dinge, soos onder andere aanbidding. Gesamentlike sowel as persoonlike aanbidding is noodsaaklik vir jou geestelike groei. Die Vader soek mense wat Hom in gees en in waarheid sal aanbid. (Joh. 4 : 23)
Intersessie (voorbidding): Hierdie is een van die treffendste en beste wyses van gebed omdat jy nie vir jouself nie, maar vir ander intree.
Jy het heel waarskynlik vele kennisse, vriende en familielede wat Jesus Christus nog nie as Verlosser aanvaar het nie. Jy moet ernstige voorbidding vir hulle doen om verlossing.
Jy sal hoor van persone wat in probleme verkeer of wat byvoorbeeld siek is. Ook vir diegene kan jy voorbidding doen totdat jy die versekering het dat jou gebede beantwoord is.
Vroeg in jou geestelike lewe moet jy poog om gebedsvennote met jou geestelike vriende te vorm. Dit sal jou nader aan mekaar bring en jou eie lewe ten goede affekteer. (Lees Matt. 18 : 19 & 20)
Wanneer om te bid…
As jy ‘n effektiewe gebedslewe wil lei, moet jy jouself aanleer om in ‘n groep of alleen te kan bid.
Kweek die gewoonte aan om God aan te roep in elke geleentheid van nood in jou lewe, maar bepaal ook ‘n vaste plek en tyd vir gereelde, alledaagse gebed.
Jy moet tyd maak vir gebed. Jou gebede moet altyd God-gerig wees en jy moet waak teen gewoonte uitdrukkings. Jy moet ook sorg dra dat jy deurdringend bid.
Wanneer jy bid moet jy nooit ophou wanneer jy lus voel om op te hou nie. Hou vol met jou gebed totdat jy kan ervaar dat die Here iets in jou binneste gedoen het. Die oomblik wanneer jy op jou swakste voel en voel dat jy niks bereik nie, is juis die oomblik om vol te hou. Jy is op die drumpel van ‘n wonderlike seën . Hou aan met bid!
Skynbaar onbeantwoorde gebede
Hierdie is ‘n belangrike gebed wat elkeen moet leer: God beantwoord al ons gebede.
Een van die algemeenste redes waarom die meeste mense se geloof afgetakel word, is dat hulle doodeenvoudig aanvaar dat dit wat hulle vra, nie die wil van God is nie. Dit is waar dat mense dikwels dinge vra wat nie die wil van die Here is nie, maar een ding is seker en dit is dat die meeste dinge wat ons vra wel die geopenbaarde wil van God is.
Sommige kinders van die Here bid weer die dinge wat wel in die wil van God vir hulle is, maar dan verkry hulle dit nie, want hulle gooi te gou tou op! Hulle wil onmiddelike resultate sien. “Die vrug van die Gees is lankmoedigheid…” Selfs God is lankmoedig teenoor ons as mens wanneer dit kom by ons swakhede en wederstrewighede. As Hy dus dit gerade ag dat ons moet wag vir die regte oomblik, behoort ons nooit te kla nie.
“God mag moontlik beskik dat ons moet wag, maar Hy is nooit te laat nie.”
Die Here wil nie hê dat Sy kinders moet versoen met die gedagte dat hulle die nederlaag gely het in hulle gebedslewe nie. Die Here wil hê dat ons dieselfde tasbare resultate moet ervaar as wat mense in die Bybel se tyd ervaar het.
Jy moet dus nooit ophou om te bid nie. Die beloftes in die Woord behoort aan jou as kind van God. “Julle wat die Here herinner aan Sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie.” (Jes. 62 : 6 & 7) Laat jou gebed altyd gegrond wees op die Bybel en staan op die beloftes van die Here. “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14 & 15)
Ten slotte
Geen kind van die Here kan sy lewe sonder gebed deurgaan nie, net soos hy ook nie sy fisiese lewe sonder kos kan deurgaan nie. Jy sal geestelik onderskraag en versterk word en jou lewe sal in alle opsigte aangehelp word deur daaglikse gemeenskap met jou hemelse Vader. Gebed moet nooit gesien word as die laaste halmpie waarna jy moet gryp nie. Nee, gebed is ‘n noodsaaklikheid in ons daaglikse handel en wandel!