As ‘n kind van God is dit noodsaaklik dat ek die Bybel lees
Ons moet Bybel lees, want dit is die wyse waarop die Here met die mens praat. Dit is SY WOORD.
Omdat God deur die Bybel tot ons spreek, kan ek Hom daardeur leer ken en vasstel wat Sy doel met my lewe is.
Vanwaar kom die Bybel?
Die Bybel is geskryf deur manne wat deur die Heilige Gees daartoe geïnspireer was. Die Heilige Gees is dus die werklike outeur van die Bybel en die doel daarvan is om die Here te openbaar as die enigste ware, lewende God wat alle mense liefhet. So lief het Hy ons gehad dat God vir 1500 jaar die profete van ouds geïnspireer het om die mens te vertel dat Hy ‘n groot plan uitwerk om die mensdom terug te bring na Hom. Deur die profete het God die mens meegedeel dat Hy Sy Seun sou stuur om die mens te verlos van sy duisternis.
Hierdie boodskap is opgeteken in die ou Testament wat geskryf is voor die geboorte van Christus. Bykans 2000 jaar gelede is Jesus Christus, die Seun van God, toe gebore soos belowe. Die Nuwe Testament is die Goeie Tyding van Christus; die Hoop van die wêreld; die Lig wat gekom het om die duisternis te verdryf.
Ander boeke mag goed wees, maar slegs die Bybel dui vir ons die weg na die ewige lewe saam met God aan. Daarom moet ons dit deel van ons daaglikse bestaan maak.
Die Bybel is waar
Die hele Bybel is waar en is in werklikheid die Woord van God. Om die volgende uitstaande redes glo ons dat die Bybel waar is:
1. Soos reeds gesê, is God self die Skrywer van die Woord en Sy Woord is die waarheid. Jesus het gesê: “U Woord is die waarheid” (Joh. 17 : 17).
2. Geskiedkundige navorsing bewys die Bybel as waar. Daar was ‘n tyd toe kritici van die Bybel gereken het dat daar sekere onakkuraathede daarin opgeteken staan. Daar is onlangs egter sterk bewyse gevind, selfs deur skeptiese geskiedkundiges, dat die Bybel histories absoluut betroubaar is.
3. Die Ou Testament (deur die profete) het alreeds die besonderhede omtrent Christus se geboorte beskryf. Die profeet Miga het 500 jaar voor Christus se geboorte reeds verklaar dat Hy gebore sou word en dat dit in Bethlehem sou wees (sien Miga 5 : 1). Verder het die profete honderde jare vooruit ook voorspel dat Jesus uit ‘n maagd gebore sou word, wanneer Hy gebore sou word en watter bediening Jesus sou hê (Sien Jes. 7: 14; Matt. 1 : 18; Dan. 9 : 24—25 & Jes. 61 : 1—2).
4. Die vervulling van profesie bewys die waarheid van die Bybel. Studente van die Bybel beweer dat meer as 300 profesië van die Ou Testament reeds vervul is.
Die Bybel word duidelik wanneer ons dit bestudeer
Die Bybel is nie so moeilik verstaanbaar as wat sommige wil voorgee nie. Dit mag moontlik wees dat jy nie alles nou begryp nie en dat jy nie weet waar om te begin lees nie.
Nuwe Christene baat gewoonlik daarby om eers die Evangelie van Johannes te lees, dan die ander Evangelies, daarna Handelinge, Efesiërs, Filippense, Kolossense, Timotheùs, 1 Petrus en 1 Johannes.
Voordat jy begin studeer moet jy eers vir jou ‘n goeie Bybel aanskaf met leesbare druk (‘n goeie Bybelkonkordanse sal ook van groot waarde wees).
Bepaal ‘n tyd elke dag om die Woord van God te lees—hoe vroeër in die dag hoe beter.
Lees die Bybel verstandig, ernstig en met geesdrif. Indien jy iets vind wat jy nie verstaan nie, moet jy ‘n merkie in die kantlyn maak en ‘n volwasse Christin vra om jou te help. Jy kan selfs ook bid dat die Heilige Gees dit vir jou sal verlig sodat jy dit kan verstaan.
Onthou dat die hooftema van die Bybel verlossing is en dat die Hoofpersoon van die verlossing die Here Jesus Christus is. Vra jouself dus die vraag af: Hoe sal ek vandag vir Christus in die Woord geopenbaar vind?
Robert A. Cook in sy boek, Noudat ek Glo, noem die volgende paar dinge wat ons behoort te weet omtrent die Bybel:
• Ons groei deur die Woord van God (1 Pet. 2 : 2—3)
• Ons word verander deur die Woord (1 Kor. 3 : 18)
• Ons word gereinig deur die Woord (Ps. 119 : 9)
• Ons word bewaar deur die Woord (Ps. 119 : 11)
• Ons word God se lewe deelagtig deur die Woord (Open. 12 : 11)
• Ons oorwin die duiwel deur die Woord (Joh. 6 : 63)
• Ons wen siele deur die Woord van God te verkondig (Ef. 6 : 17)
• Ons ewige gesag is die Woord (Ps. 119 : 89) Elke seën wat ons nodig het, is in die Woord.
Leiding deur die woord
Wanneer jy die Bybel lees, moet jy die boodskap daarvan ter harte neem. Vra jouself af: Hoe kan ek die gelese gedeelte van toepassing maak op my eie lewe? Is daar ‘n waarskuwing om op ag te gee? Is daar ‘n belofte om toe te eien? Bevat die gedeelte enige opdragte of voorligting om te gehoorsaam?
Laat die Heilige Gees tot jou spreek deur die bladsye van jou Bybel.
Vrae om jouself te vra:
• Lees jy daagliks die Bybel?
• Gehoorsaam jy die bevele van Jesus Christus?
• Memoriseer jy sommige verse?
Jy kan ontwikkel tot ‘n goeie volwasse Christen deur die Woord van God te bestudeer en die leerstellings daarvan te beoefen.