Noudat ek ‘n kind van God is moet ek gedoop word
Toe jy Jesus Christus deur die geloof aangeneem het, het daar ‘n innerlike herskepping plaasgevind en het jy die gees en lewe van Jesus Christus deelagtig geword.
Noudat jy God se kind geword het, moet jy ook gedoop word. Jesus se laaste groot opdrag vind ons in Matt. 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en DOOP hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”
Waterdoop
Een van die beste maniere waarop jy as nuwe gelowige jouself met Christus kan identifiseer, is deur die waterdoop. Waterdoop is ‘n stap van gehoorsaamheid waardeur gelowiges hulle geloof en toewyding aan Christus in die openbaar bely.
Wat beteken dit?
Die woord “doop” kom van die Griekse woord “baptizo” af. Dit beteken: om ten volle in water te onderdompel. ‘n Pragtige voorbeeld vind ons in Joh. 1:29-33 waar Jesus deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop word. Deur die doop vereenselwig die gelowige hom met die dood en opstanding van die Here Jesus Christus. Die water verteenwoordig die graf en is simbolies van die ou sondige natuur en ‘n opstanding in ‘n nuwe lewe en wandel met Jesus Christus. (Rom. 6:1-6)
Die doop spreek van wedergeboorte
Wedergeboorte beteken dat die ou lewe eers moet sterwe, waarna ‘n mens in ‘n nuwe en ewige lewe weer opstaan. In Rom. 6:3-4 word wedergeboorte deur die doop afgebeeld. Vers 3: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood gedoop is nie?”. Vers 4: “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Paulus skryf in Kolossense die gelowige betree die volheid van God in Christus nadat sy ou lewe afgelê is. Kolossense 2:12 “...omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”
Wedergeboorte behels dus twee dinge. Eerstens, die afsterwe van die ou, sondige lewe en tweedens, om deel te kry aan die nuwe opgewekte lewe in Christus.
Deur die doop word betuig dat die ou lewe verby is en dat ons nou in ‘n nuwe lewe wandel. Petrus sien ook dat die doop ‘n versoek of gebed tot ‘n goeie gewete is.
1 Pet. 3:21 “...waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete - deur die opstanding van Jesus Christus.” En dit bring ons by die volgende punt.
Die doop spreek van die reiniging van sondes
Die sakrament van die doop word ook in verband met die reiniging van sondes gebring. Lees die volgende skrif: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Toe Paulus tot redding gekom het, sê Ananias: “Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (Hand. 22:16)
Wanneer jy jou wil laat doop, spreek jy die begeerte uit om ten volle van jou sonde gereining te word. Wedergeboorte en reiniging van sondes gaan hand aan hand en dit is hiervan wat die doop spreek. Die doop is dus werklik ‘n bede tot God om jou lewe in geloof met Christus te vereenselwig.
Vanweë hierdie betekenis van die doop mag dit nooit ligtelik opgeneem word nie. Wanneer iemand gedoop word, moet hy allereers weet waaroor dit gaan. Die dopeling moet in die doop homself tot God wend en in die geloof homself met Christus vereenselwig. Dan alleen word dit ‘n gebeure saam met Christus, sowel as ‘n bede om in sy lewe geregtigheid van God te volbring.
Die stap van gehoorsaamheid
Die doop is ‘n stap van gehoorsaamheid, gebasseer op die werk wat jy glo God in jou lewe gedoen het. Jy aanvaar jou redding en die nuwe lewe wat God jou gegee het, deur geloof. Hierdie feit het geen verdere bewyse nodig nie. Jy glo eenvoudig vir God. Jy is nou gereed om ‘n openbare belydenis daarvan te maak dat jou lewe nuut geword het.
Kolossense 2:12 “...omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”
__________________________________________________________________________________
Saamgestel deur past. A. L. G. Fuchs
Bibliografie: Dr. F. P. Moller - Woorde van Lig en Lewe; Past. J. A. Wort - Geestelike Groei