fbpx
Ons is opgewonde om te sien hoe God elke gelowige opbou tot dienswerk sodat die gemeenskap Christus kan beleef.
  • Gedoop met die Heilige Gees

    Gedoop met die Heilige Gees

    Op my nuwe lewensreis met God... Die wonder van die Heilige Gees in my

Noudat ek ‘n kind van God is...
...is daar iets wonderliks wat jou toekom! Die Here het aan jou ‘n besondere gawe nagelaat—die doping in die Heilige Gees! Dit is God se belofte aan jou.
Jy het hierdie persoonlike belewenis nodig om jou verhouding tot die Here te verdiep, om krag te ontvang in jou geestelike lewe en om te lewe soos Christus dit van elke gelowige verwag.
Die vervulling met die Heilige Gees is ‘n ondervinding wat losstaan van jou bekering en die teken dat jy gedoop is in die Heilige Gees is die spreke in tale. (Hand. 2 : 4)
Die belofte van die Heilige Gees
Sommige mense meen dikwels dat die vervulling of doping met die Heilige Gees slegs ‘n dogma is wat net sekere kerke verkondig, terwyl andere dit weer verwerp. Ons moet egter in gedagte hou dat die doping in die Heilige Gees ‘n belofte is wat afkomstig is van ons Hemelse Vader en nie van ‘n kerk nie. (Verwys na Luk. 24 : 49 en Hand. 1 : 4—5)
Die profeet Joël het hierdie belofte van die Vader bekend gemaak honderde jare voor die dag van Pinkster. (Joël 2: 23—32) Baie het dit toe nie verstaan nie, maar toe die dissipels die doping in die Heilige Gees deelagtig geword het, is die werklikheid daarvan besef.
Kort voor Jesus se dood het Hy ook gesê dat Hy sou bid dat die Vader aan hulle ‘n “ander Trooster” sal gee (Joh. 14 : 16—18). Jesus het ook aan Sy dissipels verduidelik dat dit vir hulle beter sou wees as Hy sou weggaan sodat hulle die krag van die Heilige Gees kan ontvang. Jesus het besef dat hulle daarsonder nie sou kon voortgaan nie.
Die Heilige Gees is ’n belofte gegee deur die Vader en die Seun vir elkeen wat glo. Dit kom jou ook toe.
Die doel van die doping van die Heilige Gees
Jesus het verklaar dat die dissipels krag sou ontvang, deur die Heilige Gees, om getuies te wees van Sy dood, opstanding en verlossingskrag.
Die doel van die doping in die Heilige Gees is om die gelowige toe te rus met krag (Hand. 1 : 4—8) om sodoende dieselfde werk te kan doen as wat Christus gedoen het (Joh. 14 : 12). Hierdie toerusting met krag is nodig om die Woord van God te bevestig (Heb. 2 : 3—4); om die dinge wat Christus begin het, voort te sit (Matt. 28 : 19—20) en om die gelowiges doeltreffende getuies van Hom te maak (Hand. 1 : 8).
Ons sien hierdie toerusting van krag duidelik na vore kom in die drastiese verandering wat teweeggebring is in die lewe van Petrus. ‘n Paar dae vroeër het hy Jesus verloën (Matt. 26 : 74), toe het hy, saam met die ander dissipels, agter geslote deure weggekruip (Joh. 20 : 19); maar nou, gevul met die Heilige Gees, staan Petrus onverskrokke en getuig van die reddende genade van Jesus Christus. Hierdie vrymoedigheid het hy nooit weer verloor nie, soos dit ook duidelik blyk in Hand. 4 : 18—20 & Hand. 5 : 29—32.
Vir wie is die belofte van die Heilige Gees?
In die lig van die Skrif (kyk Hand. 2 : 37—39) is dit duidelik dat hierdie belofte almal toekom. Dit wil sê alle persone in alle ouderdomsgroepe. Die duidelike voorwaarde daarvoor is egter dat ‘n persoon wedergebore moet wees.
Hierdie ondervinding was nie beperk tot die wat in Jerusalem was nie, maar is ook geskenk aan die gemeentes in die hele Judea (Hand. 9 : 31), aan die Samaritane (Hand. 8 : 14—17), aan die Romeine (Hand. 10 : 45) en aan die inwoners van Efëse (Hand. 19 : 2—6). Ons lees dat almal vervul is met die Heilige Gees (Hand. 2 : 4) en dat die Gees op alle vlees uitgestort word (Hand. 2 : 17).
Dit is dus duidelik dat die belofte van die Heilige Gees vir almal is, ook die wat nog later deur God tot geloof en bekering geroep sal word. Net soos die Here, in die tyd van die apostels, aan die gelowiges die doping in die Heilige Gees geskenk het, so is dit nogsteeds Sy begeerte om dit aan almal te gee wat vandag tot geloof en bekering kom. Hierdie belofte kom u ook toe en u moet naarstigtelik daarna soek. “As julle dan...weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid.” (Luk. 11 : 13)
Hoe word ‘n persoon gedoop in die Heilige Gees
Ter inleiding van hierdie onderwerp is dit noodsaaklik om daarop te wys dat God reeds op die dag van Pinkster die Heilige Gees uitgestort het. Dit is ‘n gawe—’n geskenk. As sulks is dit nie vir die gelowige nodig om daarvoor te smeek of te soebat nie, maar moet dit net eenvoudiglik in die geloof aangeneem word.
Anders gestel kom dit daarop neer dat die Heilige Gees krag reeds gegee is en dat Christus (die doper in die Heilige Gees) wag op die persoon om homself oor te gee sodat Hy hom kan doop.
As uitgangspunt vir die doping in die Heilige Gees gebruik ons Hand. 2 : 4: “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”
Hier dien daarop gelet te word dat dit nie die Gees is wat deur die mens praat nie, maar dat dit die gelowige is wat uit eie vrye wil die woorde uitspreek, soos die Gees dit aan hom gee. Die wonderwerk is nie opgesluit in die feit dat die persoon praat nie, maar wel wat hy praat—dit is bonatuurlik!
By ‘n wonderwerk is daar altyd ‘n deel wat die gelowige self moet doen. Hy moet altyd die eerste stap neem. So, byvoorbeeld, moes Laserus se mense eers self die steen wegneem en toe doen Jesus die wonderbare opwekking. Op dieselfde wyse moet die gelowige die eerste geloofstap neem om te praat en dan sal die wonderwerk plaasvind van wat hy praat.
Hier moet natuurlik daarop gewys word dat die geloof ‘n besliste rol speel, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb. 11 : 6). Deur die geloof aanvaar die gelowige dat God Sy beloftes gestand sal doen en sodra hy bewus word van die inwerking van die Heilige Gees in hom, moet hy gelowiglik uitspreek dit wat die Gees aan hom gee om uit te spreek. Deur die beoefening van geloof word dit ‘n vloeiende taal waardeur God verheerlik word. Hierdie taal is ‘n taal wat die spreker nie aangeleer het nie en as sulks vir hom onbekend en onverstaanbaar is.
Die spreke in tale is die bewys van die doping in die Heilige Gees en die volgende skrifte bevestig onder andere hierdie feite: Hand. 2 : 1—4 ; and. 10 : 44— 48 & Hand. 19 : 6.
Die gelowige hoef nie te vrees dat dit ‘n valse of vleeslike ondervinding sal wees nie, want “dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” (1 Joh. 5 : 14—15)
Jy kan deur te bid, die doping in die Heilige Gees ontvang, net soos die eerste Christene dit in die Bybelse tye ontvang het.
Opsomming
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat ‘n persoon wat gedoop wil word met die Heilige Gees:
1. Innerlik rein moet wees;
2. Die begeerte moet hê om gedoop te word;
3. Die wil moet hê om te praat; en
4. God moet glo dat Hy Sy beloftes gestand sal doen. Deur voort te gaan om ‘n lewe te lei wat met die Gees gevul is, sal jy ‘n meer intensiewe toewyding aan God en Sy werk hê. Jy sal ook ‘n meer aktiewe liefde vir Christus en Sy Woord voel asook vir mense wat verlossing moet vind. Die “vrug” van die Gees sal deel uitmaak van jou daaglikse lewe en dit is “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5 : 22) Jy mag ook deur God gebruik word as ‘n kanaal vir die gawes van die Heilige Gees, ooreenkomstig 1 Kor. 12 : 7—11.

Kontak Ons

T: 021 981 0200
E: Hierdie e-posadres word teen spambots beskerm. Jy benodig JavaScript geaktiveer om dit te bekyk.

Rots Kantoor:
Maandag - Vrydag 08:00 - 13:00


Bank Besonderhede

Rotsgemeente
ABSA Brackenfell
Rek. nr. 01000 541 261
Takkode 632005

Kopiereg © 2017 | www.rocksolid.org.za. Alle regte voorbehou.
Tel: (021) 981 0200 | Faks:(021) 982 2502 | Fisiese Adres: Leliestraat 25, Proteahoogte, Brackenfell | Posbus 25, Brackenfell 7651
Webwerf bestuur deur IT Giant Web.