fbpx
Ons is opgewonde om te sien hoe God elke gelowige opbou tot dienswerk sodat die gemeenskap Christus kan beleef.
  • Getuig

    Getuig

    Op my nuwe lewensreis met God... Vertel ek verder.

Noudat ek ‘n kind van God is…
Moet jy ‘n getuie wees van Jesus Christus. Jou woorde en dade, jou handel en wandel, moet deurentyd getuig van die wonderwerk wat in jou lewe plaasgevind het. Daar het iets groots met jou gebeur en jy sal dit met andere wil deel. “Want uit die oorvloed van die hart, praat die mond.” (Matt. 12 : 34b)
Jy is ‘n getuie
‘n Getuie is iemand wat eerstehandse inligting oor ‘n saak kan gee. In ‘n hof is ‘n getuienis nie ‘n slim argument of ‘n samevoeging van wettiese aspekte nie, maar dit is eerder ‘n aanbieding van die ware feite van wat gebeur het. Dit is ook waar wanneer dit kom by die getuienis van ‘n kind van God. Jou persoonlike getuienis bevat die feite wat jou bekering behels en is nie die verklaring van leerstellings of die inmekaar voeging van teologiese terme nie.
Omdat mense dikwels nie goed onderrig is in die Skrif nie, huiwer hulle om van Christus te getuig omdat hulle bang is dat hulle die verkeerde dinge sal sê. Dit is veral waar van nuwe bekeerlinge. Jy moet egter onthou dat jou getuienis ‘n weergawe is van dit wat werklik met jou gebeur het. Niemand kan ooit die feit weg redeneer wanneer hulle die verandering in ‘n persoon se lewe sien en in sy spraak hoor dat iets goddeliks met hom gebeur het nie. Jou getuienis is dus die woordelikse verklaring van dit wat met jou gebeur het by jou bekering.
Dit is dan ook baie belangrik om, veral in die begin, enige leerstellige sake te vermy. Moet jou nie op hierdie terrein begewe nie. Immers is dit nie leerstellings wat vrymaak van sonde nie—dis Jesus Christus. Vertel aan mense wat Hy vir jou gedoen het.
Hoe om effektief te getuig
Wanneer jy getuig wil jy dit sekerlik op so ‘n wyse doen dat ander ook sal belangstel om Jesus Christus aan te neem as persoonlike Saligmaker.
‘n Voorbereide getuienis is ‘n basiese hulpmiddel wat van onskatbare waarde is, maar omdat nuwe bekeerlinge nie weet hoe om getuienis effektief oor te dra nie, laat hulle dit dikwels tersyde. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie. Wees voorbereid om ten alle tye te kan vertel wat in jou eie lewe plaasgevind het.
Om vir jou van hulp te wees, gaan ek ‘n paar riglyne aan jou voorhou waarvolgens jy effektief kan getuig:
• Skryf jou getuienis neer. Doen dit biddend en vra wysheid van die Here. Hy het beloof om aan ons wysheid te gee en Hy sal. ‘n Goed voorbereide getuienis skep vertroue by die spreker. Hy kan meer op sy gemak praat, want hy weet wat hy wil sê. (Hier wil ek net graag byvoeg dat, alhoewel ons ‘n getuienis op hierdie wyse voorberei, ons altyd ontvanklik moet bly vir die leiding van die Heilige Gees tydens elke geleentheid). Wanneer jy jou getuienis goed voorberei, stel dit jou in staat om in ‘n kort bestek van tyd, die boodskap effektief oor te dra. Baie geleenthede ontstaan elke dag waarin jy kan getuig. As jy weet wat jy wil sê, is dit soveel makliker.
• Ontwikkel jou getuienis om ‘n drie-punt raamwerk. Dit sal jou help om te weet waar om te begin en hoe om jou getuienis geleidelik te laat ontvou. Die geleentheid in ag genome, moet jou getuienis nie te lank wees nie—so drie tot vyf minute. Dit behels die volgende:
(a) Jou gesindhede en optredes voordat jy tot bekering gekom het.
(b) Besonderhede wat gelei het tot jou bekering.
(c) Veranderinge wat plaasgevind het in jou gesindhede en optredes nadat jy Jesus aangeneem het as Saligmaker.

Wees spesifiek in jou getuienis. Noem ongeveer vyf spesifieke dinge wat plaasgevind het in elk van die bogenoemde drie punte.

Gee genoeg inligting om belangstelling te wek. Maak gebruik van teksverse, maar nie te veel nie. Onthou, jy getuig, jy preek nie. Maak seker dat jy geen teologiese of geestelike terme gebruik wat die nie-Christin nie ken of verstaan nie.

Moontlik sal jy dit nodig vind om jou getuienis ‘n paar keer oor te skryf, maar dit sal tyd goed benut wees.

Sodra jou skriftelike getuienis jou tevrede stel, moet jy die hoofpunte memoriseer terwyl jy ook sorg dra dat jy die inhoud vloeiend kan oordra. (Onthou weereens om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei wanneer jy getuig.)

Jy kan van Christus getuig met die versekering dat die Heilige Gees steeds met die luisteraar sal spreek selfs lank nadat jy weg is.

Sodra jy begin getuig, sal andere jou raadpleeg oor geestelike rigting en leiding. Kennis van die Woord is dus noodsaaklik.
Om ander na Christus te lei
Terwyl ons die noodsaaklikheid besef van die oordra van die persoonlike getuienis van wat Christus in ons gedoen het, kan ons ook nie nalaat om ander honger siele na Hom toe te lei nie.
Die vreugde wat jy sal ondervind wanneer jy ‘n persoon na Christus toe lei word alleenlik oortref deur jou eie bekering. Word ‘n sielewenner in die omgewing waarin jy staan. Hier volg ‘n paar teksverse wat jy kan gebruik:
Rom. 3:23 Wys daarop dat almal gesondig het.
Rom. 6:23 Wys daarop dat sonde die mens van die ewige lewe beroof.
Ef. 2:8—9 Wys daarop dat die mens homself nie kan red nie.
Rom. 5:8 Wys daarop dat Jesus ons straf aan die kruis gedra het.
1 Joh. 1:9 Wys daarop dat God ons sal vergewe as ons ons sonde bely en om vergifnis vra.
1 Joh. 5:11—12 Wys daarop dat ons die ewige lewe deur Christus kan verkry.
Joh. 1:12 Wys daarop dat ons kinders van God word deur Christus aan te neem as ons Verlosser en in Sy naam te glo.
Open. 3:20 Wys daarop dat Christus angstig is om in ons lewens in te kom en wanneer ons Hom na binne nooi, kom Hy in met die gawe van die ewige lewe en die reiniging van sonde.
Ten slotte
Ten spyte daarvan dat baie bekeerlinge Christus tydens ‘n kerkdiens in die openbaar aanneem, is dit so dat hulle belangstelling in die meeste gevalle begin het by die getroue getuienisse van kinders van die Here. Daar is veral drie redes hiervoor:
1. ‘n Kind van die Here is opreg besorg oor die geestelike welstand van andere.
2. ‘n Kind van die Here het Christus so lief dat hy nie anders kan as om oor hom te praat nie; en
3. Die meeste ongereddes sal nie uit eie beweging kerk toe gaan nie, hulle moet daarheen genooi word.
Dit is die verantwoordelikheid en voorreg van elke kind van God om so dikwels moontlik ‘n getuie van Christus te wees.
Noudat jy ‘n kind van God is, is jy Sy persoonlike verteenwoordiger in die wêreld rondom jou.

Kontak Ons

T: 021 981 0200
E: Hierdie e-posadres word teen spambots beskerm. Jy benodig JavaScript geaktiveer om dit te bekyk.

Rots Kantoor:
Maandag - Vrydag 08:00 - 13:00


Bank Besonderhede

Rotsgemeente
ABSA Brackenfell
Rek. nr. 01000 541 261
Takkode 632005

Kopiereg © 2017 | www.rocksolid.org.za. Alle regte voorbehou.
Tel: (021) 981 0200 | Faks:(021) 982 2502 | Fisiese Adres: Leliestraat 25, Proteahoogte, Brackenfell | Posbus 25, Brackenfell 7651
Webwerf bestuur deur IT Giant Web.