Kinders is ‘n geskenk
Rotsgemeente wil vir julle baie gelukwens met julle kleintjie(s). Die Bybel sê vir ons dat kinders ‘n geskenk van die Here is. Mag julle gereeld die woorde van Psalm 127 ervaar:
“Kinders is ’n wonderlike geskenk van die Here, hulle kom direk uit die Here se hand. Kinders in ’n huis maak dit vol vreugde, dit maak ouerharte vol blydskap! Hoe gelukkig is elke pa en ma wie se huis die vrolikheid van kinderstemme ken!” Psalm 127:3-5 DB
Ons is baie bly dat julle kies om julle kleinding aan die Here toe te wy. Mag die toewyding vir julle familie ‘n wonderlike belewenis wees! Met hierdie toewyding is ons saam met julle dankbaar vir hierdie nuwe mensie!
Die voorbeeld van Jesus
Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.” En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek. Matteus 19:13-15 NLV
Drie opmerkings uit hierdie gedeelte:
1. Die Here is baie lief vir kinders:
Drie van die evangelies skryf oor hierdie geleentheid waar Jesus kinders seën. Jesus het self ook ‘n kinderlewe ervaar. In Lukas 2:22 lees ons dat sy ouers Hom ook aan die Here toegewy het.
In ‘n wêreld waar kinders baie keer op die agtergrond geskuif word, sê Jesus: “Moenie die kinders keer om na my te kom nie…”
2. Wat in julle gesin gebeur is baie belangrik vir God:
Saam met kinders, staan ouers ook voor God, as Sy kinders. John Westerhoff beskryf dit pragtig: “The child is a pilgim, the adult is a pilgrim, and the spiritual journey is one of walking the road together.”
Met kindertoewyding erken ouers dat God Here is, nie net oor kinders se lewens nie, maar ook oor ons lewens. Ons bring ons kinders na die Here, en verklaar ook dat ouers Sy genade en wysheid nodig het.
Die toewyding van kinders is nie net ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar is ‘n toewyding van ons as ouers om te leef as navolgers van Christus.
Lees Deuteronomium 6:4-9 NLV Saam met Josua roep ons uit : “…Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.” Josua 24:15 NLV
3. God is betrokke by die toewyding:
Met kindertoewyding, maak ouers die belofte om kinders groot te maak in die weg van die Here, tot die kind oud genoeg is om self die besluit te kan neem om Jesus Here van hul lewens te maak. Toewyding is gevolglik nie dieselfde as doop nie. God kom en seën en doen 'n bonatuurlike werk.